Om die WAARHEID te praat
 

Ek het die behoefte gevoel om ‘n artikel wat ek sowat 2½ jaar gelede geskryf het, weer te publiseer. Lees dit asseblief, selfs al het jy dit voorheen gelees – hierdie is ‘n baie belangrike onderwerp:

Daarom, lê die leuen af en spreek die waarheid, elkeen met sy naaste, want ons is mekaar se lede.” (Efesiërs 4:25 OAV)

Ek hoor dat baie mense sê dat dit beledigend is teenoor Christene om hulle oor hierdie baie basiese aangeleentheid aan te spreek. “Ons is Christene en ons praat altyd die waarheid” is wat ek jou hoor sê. Is jy seker? Hoekom het Paulus dan nodig gehad om die eerste geslag gelowiges te vermaan om die waarheid te praat? (Efesiërs 4:25; Kolossense 3:9; 1 Timoteus 4:2) Is dit vandag enigsins anders? Ek dink nie so nie. Om Christene aan te moedig om eerlik te wees in alle fasette van hulle lewens, bly een van die grootste uitdagings vir vandag se godvresende Christen leiers. Ek gaan jou nie verveel met die magdom stories van blatante oneerlikheid en leuens deur Christene en Christen leiers wat ek feitlik weekliks teëkom nie.

Die eerste ding wat ons moet besef, wanneer ons hierdie onderwerp aanpak, is dat leuens en waarheid nie die fynere punte van Christenskap is nie. Dit is die wese daarvan. Die duiwel is die vader van die leuen en sy hele werkswyse is gebaseer op onwaarhede. “Hy (Satan)… staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is 'n leuenaar en die vader van die leuen” (Johannes 8:44). Aan die ander kant se Jesus “Ek is die … waarheid” (Johannes 14:6).

Jesus is nie net iemand wat die waarheid leer en uitdeel nie. Hy is self die Waarheid. Die duiwel is gewortel in die leuen en sy hele besigheid is leuens. God se natuur en wese is waarheid. Wanneer ons wedergebore is, moet die waarheid derhalwe die hart, die wese, wees van wie ons is en wat ons doen. Is hierdie aspek nie veronderstel om juis die duidelikste te toon dat ons vanuit die duisternis in Sy wonderlike lig gekom het nie?

Baie gelowiges onderskei tussen alledaagse waarhede (die son skyn, ek is ‘n mens ens) en goddelike waarhede in die vorm van leerstellinge. Maar die Bybel tref geen onderskeid nie. Daar is geen verskil tussen, en ook nie verskillende woorde vir, dag-tot-dag waarhede en leerstellige waarhede nie. Dit is alles dieselfde. Waarheid is die waarheid en ‘n leuen is ‘n leuen. Hoekom is dit belangrik? As ons nie betroubaar is in ons daaglikse handel en wandel, hoe kan ons vertrou word om die waarheid te praat wanneer dit by die goddelike en ewigheid kwessies kom?

Ek staan verstom oor predikers wat dit ‘n gewoonte maak om te lieg en dan dink dat hulle bevoeg is om met die Woord van Waarheid om te gaan. As jy nie vertrou kan word om betroubaar te wees in die alledaagse, hoe kan jy vertrou word om die waarheid omtrent God te verkondig? Mag ek die sterk aanbeveling maak dat as jou prediker, leraar of onderwyser van die Woord nie ten opsigte van alles die waarheid praat nie, jy nie na enige iets wat hy te sê het, behoort te luister nie? Hoe gaan jy weet wanneer praat hy die waarheid praat en wanneer lieg hy? Waarheid mag nie vir enige iets of teen enige prys verkoop, verhandel of geruil word nie (Spreuke 23:23). Diegene wat Die Waarheid ontmoet het en wat daarop aanspraak maak dat Hy in hulle is, moet met absolute eerlikheid en betroubaarheid handel, maak nie saak wat die omstandighede nie.

Waarheid begin in onsself. Ek dink dat baie Christene nie dink dat hulle lieg nie omdat hulle al so baie vir hulleself gelieg het dat hulle inderwaarheid daardie leuens glo. Wat ‘n aaklige misleiding. Dit is erg genoeg om vir ander te lieg, maar dit is die ergste wanneer ons vir onsself begin lieg.

Dawid het gesê: “Maar U verwag opregtheid diep in 'n mens se hart” (Psalm 51:8). Ja, die waarheid moet in die diepste wese van ons menswees begin. Dit kan nie iets wees wat ons aan die buitekant opplak, soos wat so baie Christene doen nie. Dit is waaroor skynheiligheid gaan. Dit is om ‘n leuen te leef - om ‘n rol te speel wat baie anders is as dit wat ons werklik in ons diepste wese is. Wanneer ons meubels koop, vind ons dikwels meubels wat net ‘n dun lagie hout aan die buitekant het maar binne is dit maar goedkoop spaanderbord. Dit lyk baie mooi vir ‘n rukkie, maar die oomblik as dit die stampe, stote en skrape van die lewe begin opkry, dan word die werklike aard van die misleiding sigbaar. Na ‘n paar jaar het die uiterlike lagie dun geskaaf en dan moet die gemors weggegooi word. ‘n Meubelstuk wat van soliede hout gemaak is, bly presies dieselfde, maak nie saak hoe diep die skrape nie. Dit is presies dieselfde met mense wat ‘n front voorhou dat hulle Christene is en dat hulle in die waarheid is. Net ‘n stampie en ‘n skrapie en die ware aard van dit wat binne is, word openbaar.

Ons kan nie leer om betroubaar te wees nie. Ons moet deur die krag van die Heilige Gees verander word, van binne na buite, en dit begin alles wanneer ons eerlik met onsself is. Slegs wanneer ons dit kan doen, kan ons eerlik met die Here wees. Om eerlik te wees teenoor die kerk en die wêreld sal dan volg wanneer ons eerlik met onsself en God is. Daar is bitter min gelowiges wat die waarheid omtrent hulleself kan aanvaar en kies daarom eerder om in die ontkenning daarvan te leef. O ja, ons sien die splinter in ons broer se oog tog so baie duidelik, maar om die balk in ons eie oog te sien is so bitter moeilik. Baie van ons is tog te gelukkig om delikate oogoperasies op ons broeders se oë te doen terwyl ons ‘n balk in ons eie oog het!

Wanneer ek uit 2 Tessalonisense 2:9-12 aanhaal, moet ons onthou dat Paulus geen onderskeid tref tussen verskillende tipes van waarhede nie:

Deur die werking van die Satan sal die verskyning van die wettelose gepaard gaan met groot magsvertoon en allerhande vals tekens en wonders en met gruwelike misleiding van dié wat verlore gaan, omdat hulle nie die waarheid liefgehad en tot hulle redding aanvaar het nie. Dit is ook waarom God hulle aan die mag van die dwaling oorgee, sodat hulle die leuen sal glo. En so sal almal wat nie die waarheid geglo het nie, maar die ongeregtigheid verkies het, veroordeel word.”

Saligmaking begin die oomblik wanneer ek die waarheid in die oë kyk omtrent my sonde en my onvermoë om myself te red. Die werk van heiligmaking kom tot stilstand die oomblik wat ek vir myself, die Here en vir ander rondom my begin lieg.